Jan 16, 2010

Geestelike Leierskap

Geestelike leierskap beteken vir Helderberg Gemeente om as dienende leiers aanspreeklikheid vir sekere
verantwoordelikhede te neem met die woorde van ons Here Jesus Christus in Matt 20:25-28 as riglyn: “Julle
weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle
misbruik. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaars wees; 27en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. 28So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
Met geestelike leierskap verstaan ons ook dat die alle geestelike leiers ook die rol van ’n geestelike begeleier
(spiritual director) het. Belangrike uitgangspunte van geestelike begeiding is:
• God is aktief werksaam in die wêreld. Hy is altyd besig om iets te doen. Wat Hy aan die doen is, is die
deurslaggewende ding wat aan die gebeur is.
• Die eerste grondhouding van geestelike begeleiers is heilige respek. Ons is op heilige grond en moet dit
nie vir ’n oomblik vergeet nie; die gemeente waaroor ons praat is die terrein van God se werksaamheid.
Daarom moet ons ook oop wees vir die onverwagte en onbeplande.
• Die tweede grondhouding van ’n geestelike begeleier is gehoorsaamheid. Ons moet altyd bereid wees
om ons eie planne op te skort indien God elders lei. Dit geld nog meer vir ons as kerkraad, omdat ons
tegelykertyd geestelike begeleier en deel van die gemeente is.
• Geestelike begeleiers probeer mense lei om groter belangstelling te ontwikkel in God as in hulself.
• Ons is nie uitgelewer aan raaiwerk om raak te sien wat God aan die doen is nie. Daar is wysheid wat
oor die eeue heen versamel is wat ons hiermee help. Die Bybel is vir ons hierin van onskatbare waarde.
• Die allerdaagse, die ‘onbelangrike’ en die klein dingetjies verdien net soveel aandag as die
uitsonderlike, die ‘belangrike’ en die opspraakwekkende.
• Elke mens/gemeente is uniek. ’n Mens kan nie klaargemaakte antwoorde van elders klakkeloos op
ander mense/gemeentes afdwing nie. Wat vir een persoon/gemeente ’n goeie ding is, mag dalk net vir
’n ander persoon/gemeente die slegste denkbare ding wees.
• ’n Geloofsbegeleier is ’n byspeler in die drama, hoewel sy/hy ’n belangrike rol speel. Die
persoon/gemeente self en God is die hoofspelers. Die persoon/gemeente is nie die geestelike begeleier
se ‘projek’ en prestasie nie, maar God se eiendom, waarmee Hy ’n intens persoonlike pad loop.
• Een van die groot take van geestelike begeleiers is om dinge name te gee. Geloofsbegeleiers kyk dieper
as die oppervlakte van dinge wat gebeur het en sit hulle vinger op die diepste motief waarmee iets
gedoen word, die werklike bron van die emosies wat opgewel het, die diepste aard van die daad wat
gedoen is. Deur dinge hulle regte name te gee, stroop geestelike begeleiers mense/gemeentes van die
rookskerms, rasionalisasies, selfmisleiding, verskonings en ander meganismes waarmee hulle dit
moontlik maak om in ’n ander rigting te volhard as die waarop God hulle wil neem.
• Geestelike begeleiers help mense/gemeentes om hulle stories op verrassende maniere anders te vertel.
Hulle help mense om God se bepalende plek in hulle stories raak te sien en hulle stories as evangeliestories
te verstaan.