Dec 7, 2009

Keur die NG Kerk saamwoon goed?

Vir twee agtereenvolgende Sondae berig die Rapport dat die NG Kerk dit oorweeg om saamwoon van paartjies goed te praat.

Hieroor wil ek net die volgende opmerkings maak:
  • Die NG Kerk het nog by geen amptelike vergadering van die kerk só ’n besluit geneem nie.
  • Die NG Kerk se standpunt is baie duidelik dat slegs ’n verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  • Wat wel waar is, is dat daar ’n gesprek binne die kerk gevoer word oor wanneer hierdie verbintenis nou eintlik ’n huwelik is. Is die huwelik eers amptelik as dit binne die ordereëlings/wetgewing van die staat plaasgevind het of is ’n verbintenis wat ‘n paartjie binne ’n bepaalde geloofsgemeenskap gemaak het, ook ’n huwelik? Die kerk kry nogal baie sulke versoeke van veral weduwees wat weer wil trou, maar indien hulle weer trou volgens die wetlike vereistes van die staat, verloor hulle bepaalde voordele van hulle pensioenskema agv diskriminerende ordereëlings van pensioenskemas. So is daar nog baie ander voorbeelde ook.
  • Die verslag is nog bloot ’n ondersoek wat met aanbevelings na die volgende algemene sinode van die NG Kerk moet kom. So ’n ondersoek is noodsaaklik en uiters nodig. Soos dit met alle verslae binne die kerk werk, sal sinodes, moderature, ringe en kerkrade geleentheid kry om daarop te reageer. Dit is ’n deursigtige proses.
  • Bid en dink asb geloofsonderskeidend saam met ons binne die riglyne van God se Woord en die leiding van die Heilige Gees.

No comments:

Post a Comment