Jul 27, 2009

Jesus se dissipelskapskool

Ons het Sondag in Helderberg begin met ’n opwinde nuwe reeks. Vir 14 weke gaan ons in al ons eredienste Lukas 9-19 deurwerk en saam deel wees van Jesus se dissipelskapskool. Dit is 'n besondere skool, want eintlik is dit 'n skool op pad.

Kom reis saam
Ek wil jou nooi om jou tassie te pak en saam met ons te vertrek vir ’n reis saam met Jesus deur Samaria na Jerusalem. Jy het nie veel in jou tassie nodig nie. Behalwe ’n goeie stuk opgewondenheid en ’n Bybel in die hand het jy nog twee dinge nodig: ’n Oop gesindheid om te hoor wat die Here vir jou sê, en die bereidheid om daaroor te praat. Met mekaar, buite die kerk, in die motor, op hierdie blog. Want dan gaan ons almal die meeste uit hierdie pad kry.

In Lukas 9:51-19:27 kry ons die verhaal van Jesus se laaste reis na Jerusalem met sy dissipels. Lukas beeld vir ons die reis uit as ’n laaste voorbereiding van die dissipels om die kerk op aarde te wees. Ons gaan hierdie pad stap om vir dieselfde taak toegerus te word.

Dit val op dat Jesus se dringendheid Hom nie haastiger of besiger maak nie. Inteendeel. Dit is asof Hy rustiger en meer intens in gesprekke betrokke raak by die kleiner groep volgelinge om Hom. Die reis van Galilea na Jerusalem sou onder normale omstandighede slegs 3-5 dae te voet neem. Hulle neem egter ooglopend baie langer om die afstand af te lê.

Daar is groter fokus, maar Hy pas nie druk op hulle toe om vir oulaas iets in hulle koppe te kry nie. Hy gee meer persoonlike aandag aan hulle. Die verhale en gesprekke berei hulle voor om as sy navolgers voor te gaan in die kerk. Hy doen dit in vyandelike gebied (Samaria), wat op ’n manier simbolies is vir die plek waar mense tot vandag dissipels moet wees.

'n Verbintenis (commitment)
Aan die begin van die reis is daar 'n paar insidente van mense wat Hom wil volg, maar nog nie mooi die koste bereken het nie.
Jesus maak dit duidelik dat die pad van dissipelskap eise stel en ons maklik verskonings soek om nie nou dadelik die pad te loop nie. Dit klink baie radikaal, maar Hy wil dit duidelik maak dat die pad van dissipel wees 'n baie sterk "commitment" vra.

Die Latyns Amerikaanse teoloog, Jon Sobrino, het ’n interessante vraag gevra: “Is jy besig om Jesus te volg of net te glo in Christus?” Weet ons nog wat dit kos om Jesus in hierdie lewe te volg?

Dietrich Bonhoeffer skryf aangrypend in sy Cost of Discipleship “We have gathered like eagles around the carcass of cheap grace, and there we have drunk of the poison that has killed the life of following Jesus.”

1 comment:

  1. Anonymous27/7/09 22:28

    Wat my opgeval het, was die harde woorde van Jesus. Maar toe besef ek dat ons juis partykeer sulke harde woorde nodig het. Jy kan die pad van dissipel-wees nie eers begin loop as jy nie jouself "commit" nie.

    ReplyDelete