Nov 7, 2009

Kerkwees?

Louis het die volgende boodskap, video en artikel vir ons aangestuur. Ek dink dit is baie relevant en sal graag julle opinie hieroor wil hoor.

Onderstaande het my laat begin dink oor waaroor gaan kerk werklik. Luister gerus na die liedjie van Blackie Swart, kerkstraat. Hier is 'n groot uitdaging vir ons en ek glo dat dit julle as leeraars verseker ver buite julle 'comfort zones' gaan vat. Maar wat gaan ons doen en waar gaan ons begin en hoe gaan ons dit doen? Hierdie is 'n aanklag teen ons as kerk wat nie gaan verdwyn nie en ons behoort spoedig daaraan aandag te gee.

Ek bid vir julle as geestelike leiers en vra dat Vader julle sal seën en julle grondgebied sal uitbrei en julle sal weerhou van die aanslae van die bose.

Seënwense

Louis Smit

Raak Geluister op Youtube

Right-click here to download pictures. To help protect your privacy, Outlook prevented automatic download of this picture from the Internet.
video pic
YouTube - Blackie Swart - Kerkstraat (kliek op foto om te luister)

Raak Gelees in Beeld

Bron: Beeld - ‘Wat sou Jesus gedoen het?’ - 2009-09-29 23:09

Die onderstaande artikel van Ds. Strydom, direkteur van ECHO Jeugontwikkeling, 'n organisasie wat uitreik na jongmense in nood in die Mootgebied, is in Beeld gepubliseer. Hy is ook deeltyds betrokke by die NG gemeente Villieria.

Wêreldwyd is kerke groot eiendomsbesitters. Dis ook in Suid-Afrika die geval. Ds. Jaco Strydom meen kerke moet hul goed verkoop en aan die armes gee.
Biskop Paul Verryn van die Metodistekerk het nou die dag by ’n konferensie oor teologie in Johannesburg gesê dat die kerk in Suid-Afrika waarskynlik net soveel eiendom soos die staat besit en bygevoeg: “And we all know what Jesus would have done with that!”
Die laaste tyd het ek aan ’n hele paar kerk-ooms gevra waarom dit nodig is dat gemeentes sulke groot bedrae geld in beleggings moet hê. Hul antwoord was dat dit sekuriteit is vir die moontlike maer jare wat voorlê; ’n belegging in die toekoms van die kerk.
Dit is dalk nie ’n slegte sakebeginsel nie, maar dit is baie swak teologie.
’n Belegging in die voortbestaan van die kerk moet onderskei word van ’n belegging in die voortbestaan van kerkstrukture en kerkgeboue.
As ons Paulus met ’n tydmasjien kon in-beam en aan hom sê dat daardie gebou met die toring ’n kerk is, sou hy ons eenvoudig nie glo nie.
Kerk sonder geboue
Die vroeë kerk het goed gewerk sonder baie van die strukture, geboue en geldelike sekuriteit waaraan ons vandag so vasklou. Hul grootste bates was juis hul mobiliteit en waagmoed.
Ons groot probleem vandag is dat ons te swaar reis en te veilig probeer speel. Te veel bagasie maak ’n mens lomp en stadig. Materiële sekuriteit kan ’n mens dalk baie veilig laat voel, maar dit span dikwels ook jou grense.
In Europa is daar vandag heelwat voorbeelde van “kerke” sonder mense (nie omdat die geld opgeraak het nie...).
Die geboue en strukture is al wat nog staan. As die mense weg is, moet die kerk mos eintlik ook ophou bestaan? Want die kerk ís mense.
Daar is niks fout met ’n kerk wat ryk is nie, maar wel met een wat ryk bly. Wanneer die kerk met geld, eiendomme en ander gawes geseën word en selfsugtig daarmee werk, is daar fout.
Baie gemeentes het miljoene
Jy lees dalk nou hier en verstaan glad nie waarom ek so tekere gaan nie. Min mense weet dit, maar baie gemeentes het behalwe vir ’n klomp
eiendomme letterlik miljoene rande in die een of ander belegging (ek het onlangs weer gehoor van drie gemeentes met beleggings van tussen R2 miljoen en R6 miljoen elk).
Ek is seker dat baie finansiële voorsitters se bloed kook omdat dit hier uitgelap word – min dinge is heiliger in die kerk as geld.
Gaan vra ’n bietjie aan jou dominee hoe groot is jul gemeente se finansiële beleggings en hou sy reaksie dop (natuurlik is daar ook vandag baie gemeentes wat geldelik swaar trek - wat dit nog erger maak dat sekere gemeentes met miljoene rande in ekstra geld sit en hulself net verder verryk).
Voorstelle vir ryk gemeentes
Hier is ’n paar praktiese voorstelle vir ryk gemeentes:

  • Verkoop jou goed en gee die geld aan die armes. Dalk kan gemeentes en sinodes lidmate wys hoe!
  • As dit te veel gevra is, belê dan eerder jou gemeente se geld in eiendomme. Rig dit in as laekoste-behuisingsprojekte (of gratis behuisingsprojekte?) eerder as om dit in die bank of geldmark te sit waar dit niks te doen het met die kerk se kernsaak nie. Let wel, die idee is nie om geld te maak uit mense in nood nie.
  • Neem ’n besluit om meer as 50% van die gemeente se inkomste buite die gemeente te bestee.
  • Kry die armste mense in die gemeente om in die finansiële kommissie te dien.
  • Vat die eiendomskommissie op ’n uitreik. Laat hulle byvoorbeeld een aand saam met die straatkinders buite of in ’n skuiling vir haweloses slaap.
  • Gee aan elke gemeentelid ’n afskrif van al die gemeente se finansiële state (en beleggings!) - en skryf boaan: “Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet, dors en julle het my iets gegee om te drink, ’n vreemdeling en julle het my gehuisves.”
  • Moedig gemeentelede aan om hul geld sommer regstreeks aan die armes te gee – en nie via die kerkstrukture nie.

Bring hoop
Die bring van hoop is die kerk se kernsaak.
’n Mens kan baie diep teologies daaroor raak, maar die vraag is nie soseer hoe ons daaroor praat nie, maar eerder wat ons doen met wat ons het.
Die verhaal word vertel van ’n man wat ’n masjien ontwerp het wat teen ’n ongelooflike spoed ghries kon vervaardig.
“Waar is al die ghries?” vra ’n joernalis by die bekendstelling van die nuwe masjien. Die ingenieur antwoord rooi in die gesig dat die masjien, weens al die wrywing en hoë temperatuur waarteen hy moet werk, al die ghries wat hy kan vervaardig self weer nodig het om net aan die gang te bly.
Dit is ook die storie van baie kerke vandag. Die kerk se geboue, administrasie, strukture en vergaderings gebruik dikwels so geweldig baie energie, geld en mannekrag dat daar maar min oorbly vir die uiteindelike doel waarvoor dit alles aanvanklik veronderstel was om te gaan - en dan word dit wat wel oorbly in die bank gebêre?!
Daar word die laaste tyd baie gepraat oor die morele verval in ons land, gewoonlik met verwysing na ’n toename in seksuele losbandigheid,
alkoholmisbruik en bedrog.
Sondes van kerkmense
Vir my is een van die grootste morele krisisse van ons tyd nie soseer die sondes van die tradisionele “sondaars” nie, maar die sondes van kerkmense. As jy gemaklik kerk hou met ’n paar miljoen rand veilig in die bank (en ’n boodskap van liefde verkondig!) terwyl daar grootskaalse werkloosheid en armoede oral om jou is, is dit ’n saak van reuse-immoraliteit.
Vandag word ons vir die eerste keer werklik gekonfronteer met die besef dat te veel rykdom ’n groter bedreiging inhou vir onder meer die ekologie as te veel armoede.
’n Klomp groen wetenskaplikes het somme gemaak en besef dat dit nie in die eerste plek die verskriklike armoede en ekonomiese verval is wat die welsyn van die wêreld bedreig nie, maar eerder die moontlikheid van grootskaalse ekonomiese vooruitgang. Ontwikkeling in veral lande soos Indië en China dreig om op ’n ekologiese ramp af te stuur.
Miskien is dit ook tyd om ’n bietjie eerlik in die spieël te kyk na die effek van rykdom op die kerk.
Dalk is een van die grootste uitdagings van die kerk vandag nie net om uit te reik na die armes nie, maar om arm te wees saam met die armes. Miskien is die koste te groot?
’n Kerk wat veiligheid vir haar voortbestaan in finansiële beleggings vind, is ’n ongelowige kerk.
’n Kerk wat miljoene rande belê en elke dag verby mense in nood ry, is ’n liefdelose kerk.
“Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Johannes 3:17).
’n Beter belegging in die voortbestaan van die kerk is ’n belegging van hoop in die lewens van mense in nood.
(Ds. Strydom is direkteur van ECHO Jeugontwikkeling, 'n organisasie wat uitreik na jongmense in nood in die Mootgebied. Hy is ook deeltyds betrokke by die NG gemeente Villieria.)
Bron: Beeld - ‘Wat sou Jesus gedoen het?’ - 2009-09-29 23:09

Dankie Louis dat jy hierdie artikel op ons tafel sit.

5 comments:

  1. Anonymous8/11/09 20:25

    Dankie vir die plaas van hierdie artikel, Paul. Ek is maar net weer so bewus daarvan dat kerkwees en Christenwees 'n radikale ander tipe ingesteldheid vra teenoor besittings en geld as waaraan ons gewoond is in ons kultuur (selfs tradisionele kerkkultuur). Ek dink ons kan nie genoeg hieroor besin en met die Here worstel nie. Ek stem saam dat die hoop wat ons as kerk en Christene in die wereld moet bring ook beslis verband hou met hoe ons leef met ons geld in 'n gemeenskap waar armoede so 'n groot realiteit is. Kom ons spoor mekaar aan om gedurig bewus te bly van wat wat ons kan doen om die liefde van God uit te leef deur die deel van ons aardse besittings met ons broers wat gebrek ly. Elize

    ReplyDelete
  2. Anonymous8/11/09 20:28

    Die liedjie van Blackie Swart verwoord hierdie oproep tot getuie wees en die beliggaming van Christus se liefde ook treffend, dankie dat jy dit met ons deel, Louis. Elize

    ReplyDelete
  3. Ek lees hierdie dinge waaroor julle praat, maar dan sien ek so baie ryk mense rondom my wat net so baie bates en geld en huise en karre het. Is dit hulle wat moan oor die kerke wat te veel eiendom en geld het? It's not that easy! Ek dink kerke probeer ook net soos almal verantwoordelik wees. As hulle nou al hulle geld uitgee, en die Here stuur 7 maer jare, dan sal almal weer kla hulle was onverantwoordelik. Wat beteken dit om die Here te vertrou? Om elke keer 'n kans te vat en te wag vir die "adrenalyn rush" as God ingryp?

    ReplyDelete
  4. Min gespin oor ander kerke en wat hul met hul geld doen. Dit is ook nie nodig om met Christus te worstel nie. Familiebediening begin by die huis -net so behoort (staan?) HG ook die behoeftige plaaslike gemeentelede by te staan. Daarna reik ons uit na buite. Word hierdie gemeente hierbo beskryf? Hoop nie so nie?

    ReplyDelete
  5. Ek kan met groot vrymoedigheid se dat die kerkraad,bestuurspan, sowel as Helderberg Uitreik,nie 'n benadering van opgaar het nie. Die bedieninge en uitreikprojekte word aangemoedig om dit waarmee die Here hulle seen ander te seen.
    'n Kerkgebou of nie - dit sal altyd 'n sensitiewe saak bly. 'n Kerkgebou kan 'n struikelblok wees as dit bloot net 'n plek van samekoms is waar ons mekaar op die skouer klop en mekaar se ruggies krap; 'n kerkgebou kan ook 'n noodsaaklike plek wees vanwaar mense deur God gestuur, versorg, geinspireer, toegerus en begelei word tov hul roeping. So 'n kerkgebou kan 'n baken van hoop binne 'n gemeenskap word, asook 'n teken en voorsmaak van God se koninkryk. Ons het ook 8 miljoen rand op belegging, en ek wens dit was meer, waarmee ons ons fasiliteite wil verbeter om ons roeping meer effektief uit te leef. Natuurlik bly dit altyd 'n vraag waaroor ons in afhanklikheid voor die Here moet bly wonder: Is dit verantwoordelik om ons fasiliteite te verbeter binne 'n konteks waar ons elke dag met armoede gekonfronteer word?
    Ek is ook van mening dat biskop Paul Verryn dalk eers weer sy feite moet gaan check voordat hy so 'n stelling maak. Wat die NGK familie betref is daar baie gemeentes, die oorgrote meerderheid, wat swaartrek en al besittings wat op hul naam is, is die kerkgebou en 'n huis of huise vir hul leraars. Verder is dit skole, tehuise vir bejaardes, dienssentrums,opleidingsentas, ens wat niks anders as instrumente is om te doen waartoe die Here ons roep nie. Ek is dankbaar om deel van 'n kerk te wees waar miljoene rande per jaar spandeer word vir die opheffing van gemeenskappe en mense in nood. Sal dit nie wonderlik wees as ons nog meer sulke plekke kan oprig nie. As dit waar is dat die kerk amper soveel eiendom soos die staat het, is ek bevrees het die staat nie veel nie.

    ReplyDelete