Oct 11, 2009

Eredienste 2009-10-11 Dissipels bid met volharding

Ek het net weer opnuut besef hoe bevoorreg ek is om deel uit te kan maak van 'n gemeente waar mense vir mekaar lief is. Hier is die link na die verskillende dienste van Sondag. Gee asb vir ons terugvoer.

Ek wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om vir jou te bid.

"Here dankie dat ons die voorreg het om U te mag leer ken. Help ons dat ons iets sal begryp van U liefde vir ons. Hulp ons dat U passie en liefde ons bewus sal maak van mense wat stukkend en verlore is. Heilige Gees kom skep in ons die intense begeerte om U te ken"

17 comments:

  1. Die informele diens vanoggend was werklik 'n belewenis. Dankie dat julle die dienste so vinnig beskikbaar stel. Ek gaan dit vir al my vriende stuur. Dankie ook aan die meisie wat die mooi lied gesing het. Die belydenis van geloof was vandag baie spesiaal en nie net nog 'n ding nie, dankie.

    ReplyDelete
  2. Baie dankie gister was KERK. Daar is nie oor God gepraat nie, God is beleef. Alles, die musiek, die PREDIKING en die gemeente was gefokus op GOD.

    ReplyDelete
  3. Kan ons nie asb nog sulke dienste soos Sondag se Informele diens kry. Ons het behoefte om God te beleef. Sondag toe ek uit die kerk kom het almal rondgestaan en die gesprekke was oor hoe God met ons werk. Daar was Sondag na die diens 'n stuk erns en entoesiasme wat ek lanklaas beleef het by ons kerk. Dankie vir al die voorbereiding. Die musiek, die aanbiddingslied wat gesing is, die preek, die belydenis alles was net God.

    ReplyDelete
  4. Ek het nou net die preek afgelaai. Baie dankie ek gaan dit ook aanstuur vir my vriende. Mag ek die preek ook op my facebook plaas of is daar kopiereg

    ReplyDelete
  5. Dankbare Lidmaat12/10/09 16:08

    Dankie vir 'n wonderlike diens. Die informele diens was gevul met die teenwoordigheid van die Gees van God. Ons as gesin het gister na die diens lank met mekaar gesit en gesels. Ons moes einlik gestaan het, maar het nie die moed gehad nie. Tog besef ons dat God gister met ons gesels het. Ons praat so baie keer oor goed, en niks van hierdie goed waaroor ons praat is verkeerd nie. Maar ons moet meer praat oor en met God soos gister. Ek kry party maal die gevoel ons kerk is net nog 'n organisasie wat die sosiale omstandighede van ons tyd wil aanspreek. Ek dink ons moet dit ook wees. Maar ons fokus moet eers op God wees. Vir baie lank het ons hierdie fokus in ons gemeente verloor. Mag ons meer dienste soos gister beleef

    ReplyDelete
  6. Loof die Here dit was 'n groot ervaring!!! Ek dink ook dit is 'n goeie idee om die preke so beskikbaar te stel. Ek gaan dit ook e-pos aan al my vriende en familie.

    ReplyDelete
  7. Ek is een van die wat opgestaan het omdat my gesin nie God dien nie. Dit was vir my 'n wonderlike ervaring dat mense vir my kon bid. Ek ken nie die mense wat vir my gebid het nie, maar hulle gebed was presies in die kol al het ek nie vir hulle gese waarvoor hulle moet bid nie. Van my ander vriendinne wat gesien het dat ek gestaan het, het vir my gese dat hulle ook wou staan, maar nie die moed gehad het nie. Ek kon nou vir hulle bid. Sondag was vir my een van die geleenthede in my lewe wat uitstaan as 'n hoogtepunt. Die hele preek, die musiek asook dit wat Ds gese het, was aangrypend. Die eerlikheid en opregtheid waarmee dit plaasgevind het, die warmte wat uitgestraal is het my laat voel ek kan my skanse laat sak. Kan ons asb nie meer hierdie tipe dienste kry nie

    ReplyDelete
  8. Ek het nou net weer na die informele diens geluister. Dankie dit was aangrypend. Paul ek beleef dat jy opreg lief is vir die gemeente en mense rondom jou. Ek kan sien dat God in jou lewe eg is.

    ReplyDelete
  9. Aan almal wat reageer het, baie dankie. Ek moet se dat dit vir my 'n ongelooflike ervaring was. Ek is baie dankbaar dat ek deel mag wees van hierdie gemeente. Ek is so bevoorreg om deel uit te kan maak van 'n span soos my kollegas. Dit is ook wonderlik om saam met mense te werk soos Nina en Sicilie en hulle spanne. Dit is juis in die saamkom dat ons besef dat ons mekaar so brood nodig het. Ek glo God is besig om groot dinge in ons gemeente te doen.

    ReplyDelete
  10. Dankie Paul vir Sondag!

    Ons het beleef, dat elke woord wat jy met die gemeente “gesels”, was deurdrenk met vooraf gebed!

    Elke gedagte was deurleef en het Geesvervuld oorgekom! Daarom kon die Gees met en in ons werk deur jou!

    Ons kon waarlik God beleef, en ervaar en is aangeraak met die erns waarmee jy/ons ons ouerlike taak moet bejeën.

    Ek het begin voel na moed opgee, maar die weduwee se “aanhou kerm” het hiérdie weduwee inspireer om enduit te volhard met hierdie taak! Nina”

    Mooi dag.

    Nina♫

    ReplyDelete
  11. Jaco, Anneke en Janneke14/10/09 00:42

    Sondag oggend was ons plan om so ‘n bietjie in te lê. Ons is so pas deur ’n baie besige tyd. Vroeë oggende en laat aande met baie druk by die werk. Ons het mekaar oortuig dat ons dit verdien. Janneke, ons 15maande oue dogtertjie het egter anders besluit. 06:00 het sy begin praat en lag. Haar energie vlakke was besonder hoog en daar was eenvoudig net geen manier dat slaap verder vir ons beskore was nie. Ons het maar opgestaan en is kerk toe. Ons het skaars gaan sit toe sy styf teen Jaco gaan lê en aan die slaap raak. As ek nou terug kyk dink ek God is ’n genadige God want as sy nie Sondag so vol energie was nie sou ons die wonderlikste oomblik van ons lewe gemis het. Ons kon ook vir ’n verandering na ’n hele boodskap luister omdat sy letterlik die hele diens geslaap het.

    Dit was net een van daardie dienste wat aangrypend was. Die musiek die preek die twee jongmense wat belydenis van geloof afgelê, alles was net so spesiaal. In die diens het ek net al hoe meer in my siel oortuig geraak dat ek met ’n godsdienstige masker leef. Ek en Jaco gaan nog altyd kerk toe, selfs nog voor ons troue. Ons het ook al vir mekaar gesê dat ons geloof leeg is. Met klein Janneke het ons lewens verander, ek kan nie glo dat ek so lief is vir hierdie klein mensie nie.

    Gedurende die preek was ek so aangryp met liefde vir my kind en my man dat ek ’n hartseer beleef het wat moeilik is om te beskryf. Ek het net so bewus geword dat ons verhouding met God nie reg is nie. Toe die gesinne daar voor gaan staan en die twee meisies lê belydenis van geloof af kon ek nie meer my trane terug hou nie. Ek het so begeer dat ons as gesin so voor sal kan staan. Dat Janneke ’n verhouding met God sal hê omdat sy van kleins af gesien het dat God in ons lewens ’n werklikheid is.

    Die musiek groep het ’n lied gesing, en terwyl die vrou die lied gesing het, het ek vir God gesê ek het nodig om my lewe reg te maak. Toe gee Dr Paul die geleentheid dat jy kan opstaan as jy gebed wil hê vir geliefdes. Ek het nog gewonder wat sal Jaco dink as ek opstaan toe voel ek hoe staan hy op. Later het hy vir my vertel wat deur sy gedagtes gegaan het en ek was stomgeslaan. Hy het presies met dieselfde sake as ek gestruggle. Ons twee met Janneke in Jaco se arms het so saam gestaan en ons was so bewus van God se teenwoordigheid.

    Dr Paul het toe gesê dat as daar iemand naby jou staan jy moet opstaan jou hande op hulle lê en vir hulle bid wat op jou hart is. Rondom ons het ’n paar mense opgestaan en vir ons begin bid. Daar was egter ’n ouer tannie wat onder andere vir ons gebid het. Ons ken haar nie, ek kan nie eers sê dat ek haar al ooit van te vore gesien het nie. Toe sy begin bid het sy begin huil en vir ons as gesin met soveel oortuiging begin bid. Net daar het ek geweet ek moet my lewe met God regmaak. Sondag middag het ek en Jaco ons ouers gebel en vertel. Hulle was baie bly en het ons vertel hoe hulle vir ons bid. Ons het vir Dr Paul gebel en ’n afspraak gemaak. Maandag middag het hy by ons kom kuier en ek en Jaco het ons harte vir God gegee.

    Vandag Dinsdag het Jaco gehoor hy gaan verplaas word na Natal. Ons hoop al ’n geruime tyd vir ’n geleentheid om Natal toe te gaan omdat ons familie daar is. My eerste reaksie was die teleurstelling dat ons, ons nuwe geestelike tuiste gaan verloor. Ons weet egter dat ons ’n draai in die kaap moes kom maak sodat ons, ons verhouding met God kon kom uitsorteer.
    Helderberg gemeente en veral Dr. Paul sal vir altyd in ons hart wees. Ons hoop om eendag as Janneke haar belydenis moet aflê om haar terug te bring na die gemeente om dit hier te kom doen. Dankie vir almal wat vir ons lief is, wat uitgereik het, veral ook vir die Tannie wat vir ons gebid het, die vrou wat gesing het, die twee dogters en hulle gesinne wat belydenis van geloof afgelê het en vir Dr Paul. Ons sal julle nooit vergeet nie.

    Jaco, Anneke en Janneke

    ReplyDelete
  12. Baie baie dankie vir 'n baie spesiale diens.

    ReplyDelete
  13. Jackie Coetzee14/10/09 23:35

    Dankie vir die dienste, ek het so verlang om weer iets van die gemeente te hoor. Toe ek vandag hoor dat julle nou die dienste op rekenaar beskikbaar stel het ek onmiddelik gaan aflaai. Nou verlang ek nog meer na my kerk. Dit was 'n wonderlike diens Ds Paul ek wens ek was daar. Hier in Duitsland is daar nie veel van geloof nie. Dit is party maal baie alleen as gelowige. Maar ek sal nou elke Maandag my diens kom haal.

    ReplyDelete
  14. Sondag se diens was onbeskryflik. Dankie Paul en almal wat daarmee gehelp het.

    ReplyDelete
  15. Baie dankie vir al die teruvoer. Ons as gemeente is bly saam met Jaco, Anneke en klein Janneke vir die groot besluit wat julle in julle lewens gemaak het. Ek, Nina, Sicilie(Die meisie wat die lied gesing het) en al die ander wat bevoorreg was om by die dienste betrokke te wees het God net so beleef. Die voorreg wat ons het om voor julle te staan as gebroke mense met soveel foute en tekortkomings en dat julle ons aanvaar is vir ons baie spesiaal. Hierdie Sondag wat kom is Breda aan die woord by die Informele diens, Hannes by die Meditatiewe diens, ek en Renier by die Tienerdies en ek en Breda by die aanddiens. Die tema vir sondag is Dissipels dra nie maskers nie. Julle is solank welkom om die teks te lees in Lukas 18
    Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
    9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’
    13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
    14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
    15Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. 16Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 17Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

    ReplyDelete
  16. Dankie dit het baie beteken ek bid vir julle vir sondag.

    ReplyDelete
  17. Wonderlike belewenis. Hoop om jou meer by die informele diens te sien. Waar ek gaan praat mense oor Sondag dit het hulle werklik geraak.

    ReplyDelete