Aug 6, 2009

Gesels saam oor Sondag se eredienste

Eerskomende Sondag word die Woordbediening by al ons eredienste deur vroue hanteer. Ek dink dit is nogal iets om na uit te sien.

22 comments:

  1. Anonymous19/8/09 13:09

    Ek is 42 en my man 44 ons is aktief betrokke in die gemeente, skakel by selgroep in en het baie kontak met mense van ons eie ouderdom in die gemeente. Dit is ons belewenis dat ons vriende al hoe meer uit die kerk gaan of net eenvoudig nie meer kom nie. Vir 'n geruime tyd pla dit al. My man is selleier en hy het al met van die ander selleiers gepraat en dit klink of dit 'n groter probleem is. In die begin van die jaar met die Familie reeks was daar oplewing in die kerk. Die dienste was weer vol en orals waar ons gekom het, het mense gepraat van wat God doen in ons gemeente. Kan ons nie bietjie kyk na vernuwing binne ons eredienste nie. Miskien weer ook Ds Paul betrokke kry by van die dienste nie. Ek kyk Sondae rondom my en mis 'n groot klomp mense van my ouderdom. Ek sal die verantwoordelikheid vat om die wat ek ken weer te gaan soek. Maar ons moet dienste aanbied wat relevant is vir hulle. - Bekommerde lidmaat wat oplossings soek

    ReplyDelete
  2. Ek sal baie graag wil verneem waarom jy en ander reken dat mense eenvoudig nie meer kerk toe kom nie. Is dit styl van die erediens? Is dit die inhoud of temas van die prediking? Wat sou jy/julle graag wil voorstel?

    ReplyDelete
  3. Anonymous20/8/09 10:02

    Hannes dankie vir die vinnige reaksie. Ons gesels baie as ons om die sportvelde by die skole sit. Die meeste van ons is Informele diens mense. Ons is baie lief vir ons Ds. Ek dink egter dat die meeste van die Ds al verby die plek in hulle lewens is waar hulle kinders en kindertjies het op skool. Julle preek dus mooi goed maar dit is so ver verby ons lewenswerelde dat ons telkemale uitstap en se dit was 'n goeie preek dit help ons eenvoudig net nie. Die dienste is so vol met baie goedjies, maar ons het 'n intense behoefte aan woord prediking wat op ons lewens van toepassing is. Ons het almal ingekoop by uitreik, miskien is dit nou tyd om bietjie wyer te preek as uitreik - ons glo dit reeds. Help ons met die gewone goed ook. Veral Ds Danie en Ds Paul kry dit volgens my reg en ek dink dat Ds Paul verstaan wat ons beleef en praat met ons. Ons verstaan dat julle hom egter by die aanddieste gebruik maar hy praat ons taal. - Jenine

    ReplyDelete
  4. Anonymous20/8/09 11:56

    Jenine ek stem 100 saam. Ek en my vrou het Maart ons harte weer vir God gegee. Mis prediking wat prakties is.

    ReplyDelete
  5. Jeninie en ander: Baie dankie vir jul reaksie en openhartigheid. Dit word opreg waardeer. Wat ek hoor, is meer direkte leiding vanuit die Woord vir praktiese uitdagings/vraagstukke (veral gesinsuitdagings)en minder Uitreik gerig. Ek wil jou graag nooi om deur middel van die blog of epos of gesprekke ons te help deur spesifieke behoeftes/vraagstukke onder ons aandag te bring. Jy is reg, my kinders is groter en ek het ander uitdagings wat vir my meer aktueel is en is nie altyd in voeling met wat vir jou en ander uitdagings is nie. Graag wil ek ook net die volgende uitlig: Helderberg is 'n diverse gemeente met diverse en uitlopende behoeftes. En dit is wonderlik! Ek is verantwoordelik vir die preekrooster - daar is ook mense wat na my kom en vra (soms raas) hoekom Breda en Danie M nie meer kan preek nie, want hulle vind spesifiek aanklank by hul manier van prediking. Daarmee het ons as leraarspan al lankal vrede gemaak dat almal nie noodwendig by jou aanklank vind nie, maar daar is altyd 'n bepaalde groep wat by 'n bepaalde predikant aanklank vind. En dit is "great" - dink net hoe rampspoedig sou dit vir Helderberg Gemeeente, en vir my wees, as julle Sondag vir Sondag na my moes luister! Gelukkig het ons 'n leraarspan met verskillende gawes en wat ook op verskillende stadia in hul lewe is. Daar sit ook ou mense van 50+ (sê wie!), soos ek, wat met my en Breda kan identifiseer; maar dit is ook wonderlik om iemand soos Paul op die span te hê met drie klein kindertjies met wie jy en ander weer kan identifiseer. Die wonderlikste is vir my dat ons in Christus één IS - ek het jou nodig en jy het my nodig om waarlik kind van God te kan wees. Ons moet ook ons verskeidendheid vier en omhels. Wat die klem in die prediking op Uitreik betref, wil ek net sê: Ons moes as gemeente baie lank en deeglik stilstaan rondom Uitreik om juis die boodskap dat ons gestuurdes van die Here is deeglik vas te lê, maar ek verstaan dat dit ook nou 'n tyd in die gemeente is waar lidmat behoefte het om as gestuurdes van die Here versorg te word en vir die lewe toegerus te word. Ons sal mekaar se hande hierin moet vat. As jy en ander 'n los tydjie het - ek drink graag koffie saam met julle en sal graag saam met julle hieroor wil wonder en bid - al is ek al oor 50! In Sy heerlike diens.

    ReplyDelete
  6. Was Sondag oggend in die kerk, die preek was goed maar die diens is so vol dat dit afbreek doen. My buurman is uit die gemeente na Bay gegaan. Ek weet hy het probleem gehad met een van die ds wat gereeld Informele diens preek. Ek gaan baie keer na die Meditatiewe diens omdat dit vir my lekker is om stil te word voor God en omdat die informele diens so gestruktureerd vol is dat dit nie informeel genoem kan word nie. Ek mis die ruimte om te ontspan by God in die informele diens. Hierdie ruimte kry ek by meditatief. Is die idee van die informele diens nie juis om ruimte te skep waar mense kan ontspan en aanbid in God se teenwoordigheid nie? Nou is dit die diens wat voel dat alles ingeprop word - goeie goed - net nie plek om God te aanbid nie.

    ReplyDelete
  7. Wat is julle doel met die informele diens? Miskien is ek oor krities omdat my verwagting dalk verkeerd is. As ek die kat aan die stert beet het vra ek verskoning.

    ReplyDelete
  8. Riaan jou vraag is 'n goeie vraag. Dalk moet ons eers vra: Wat is 'n erediens? In die erediens gaan dit oor die ontmoeting tussen God en sy gemeente: God nader tot die gemeente en die gemeente nader tot God. In hierdie ontmoeting neem God die inisiatief. Hy roep sy gemeente om uit die normale gang van die lewe terug te tree; Hy bring hulle saam met die oog daarop om hulle geloof op te bou en te versterk; en Hy stuur hulle terug na die gewone gang van die lewe om tot sy eer te lewe, tekens van sy Koninkryk op te rig, 'n voorsmaak vir sy Koninkryk te wees en as Sy intrumente diensbaar te wees. Die God wat sy gemeente in die erediens ontmoet, is die God wat deur sy Woord met mense praat - omgang met die Woord is daarom van besondere belang in die erediens. Die erediens is ook bedoel om uitdrukking te gee aan die gemeenskap van gelowiges. Die gemeente kom nie as individue saam nie, maar as gelowiges wat onderling aan mekaar deur Christus verbind is. Die erediens ook die plek waar ons mekaar vertel wat alles rondom ons aan die gang is en hoe ons op verskillende maniere by verskillende situasies betrokke is as gestuurdes van die Here. 'n Erediens waartydens ons nie dit vir mekaar kan vertel nie, sal baie arm wees; so ook 'n erediens wat net weer daarop fokus en waar ons mekaar nie help om vanuit God se Woord te leef nie. Wat die informele diens anders maak, is die styl wat rekening hou met 'n bepaalde spiritualiteitstipe. Ons onderskei tussen 4 spiritualtipes: Hart, hand, kop en mistieke spritualiteit. Mense met 'n mistieke sprititualiteit het eintlik net behoefte daaraan om in God se skaduwee te gaan sit - daarvoor het ons die meditatiewe diens; die klassieke diens is vir die kopspiritualiteit mense wat ingestel is op orde, logika, inhoud, tradisie, 'n bepaalde soort kerkmusiek, ens. Die informele diens wil graag ruimte gee aan die hart en hand spriritualiteitsmense wat 'n behoefte het aan: Interpersoonlike warmte, getuienis en gevoelvolle musiek, energie en deelname van lidmate, ens. Ons is baie bewus daarvan dat sommige meen dat die eredienste te vol is; terselfdertyd is dit ook vir ons moeilik om die aktiwiteite minder te maak ten koste van die Woordverkondiging, gemeenskap van gelowges en mense in te lig en eienaarskap te laat aanvaar vir dit waarmee God deur medegelowiges besig is. Help ons asb daarmee.

    ReplyDelete
  9. Anonymous20/8/09 18:48

    Ek wil aansluit by Hannes. Die ding wat dit die moeite werd maak om in ’n erediens te wees is of ek die Here daar ontmoet – al is dit net iewers, vir ’n oomblik. Mense is egter verskillend bedraad. Vir party gebeur dit die maklikste in die energie en beweging en persoonlike gerigtheid van die informele diens. Vir ander gebeur dit die maklikste in die stilte en rustigheid van ’n meditatiewe diens, en vir nog ander gebeur dit die maklikste in die ritmes en bekendheid van die klassieke diens. Dan het ons nog ook die tienerdiens en die aanddiens. (Die feit dat ons die jonger kinders eenkant moet bedien is die gevolg van ruimteprobleme en dit is tog jammer.) Ek wil egter mense aanmoedig om ’n slag ook te gaan na ’n diens wat hulle uit hulle gemaksone vat. Dalk wil die Here vir jou iets nuuts sê. ’n Vriend van my het gesê ’n goeie diens het altyd iewers iets wat jou ongemaklik maak. Ek vermoed hy is reg...
    Breda

    ReplyDelete
  10. Anonymous20/8/09 21:20

    Dit klink of ons die woord moet praktyk maak; maak nie saak tydens watter diens nie! Wat is die relevante vraagstukke vir ouers met verskillende ouderdomme kinders? Problematiek in die werksomgewing? Wat laat verhoudings werk? Laat weet gerus en soos ek die leraarspan ken, sal hul hul kennis uithaal en ander ook vra om te help. Kom ons bly bid vir hulle en maak seker dat ons regtig luister wat God vir ons wil sê! Ilse

    ReplyDelete
  11. Anonymous21/8/09 10:03

    Onthou die doel van n blog is om te hoor wat se mense. Dit is nie om mense teologies te boelie om te dink soos jy dink nie. Ek lees hier in die anteoorde ons hoor wat jy se maar dit maak nie verskil nie hier is die regte antwoord. Wie gaan hulle nou verder bloodstel? Dankie Ilse ek weet nie waar jy inpas nie maar jy luister. Ek dink die kerk is so gewoond verdedig dat hulle dit doen sonder dat dit nodig is. Ek sal myself nou verwyder van die blog en julle die moeite spaar.

    ReplyDelete
  12. Luister is 'n proses waartydens ek hoor wat die ander se mening is, my mening/standpunt gee en uit dit alles probeer sin maak. 'n Antwoord is nie noodwendig verdediging nie, maar kan ook 'n manier wees om te se: Dit is hoe ek dink, reageer asb daarop soos ek op jou mening gereageer het. Vrede

    ReplyDelete
  13. Anonymous23/8/09 22:39

    Die aanbiddingspan, waarvan ek 'n lid is, wil die eredienste spesiale ontmoetings geleenthede met God maak. Indien daar enige iets is tydens eredienste wat tussen lidmate en God staan wat 'n hindernis in hierdie ontmoeting is, kan ons slegs iets daaraan doen, indien ons dit weet. Gesels asb weer! Of via die blog of via die kerkkantoor! Ilse

    ReplyDelete
  14. Elke Di-oggend van 09:00-10:30 bespreek ons die eredienste in die kapel (die vorige en eerskomende Sondag s'n). Elkeen is welkom om te kom saam gesels en beplan. Indien jy self nie daar kan wees nie, maar graag 'n inset/komeentaar sal wil lewer, stuur asb jou insette/kommentaar met 'n epos na hannes@nghelder.co.za.

    ReplyDelete
  15. Anonymous24/8/09 12:50

    Dankie vir gisteroggend se erediens. Dit is mos nou wat kerk moet wees. AMEN

    ReplyDelete
  16. Anonymous24/8/09 12:55

    AMEN AMEN AMEN dankie AMEN

    ReplyDelete
  17. Anonymous24/8/09 14:45

    Kan ons nie meer dienste soos gister oggend kry nie asb. Wat was fout met die klank? Dankie vir die kinders se betrokkenheid dit beteken geweldig baie vir hulle. Die skyfies was baie profesioneel en tog was die diens so gemaklik. Dit was werklik besonder. Ek is trots om deel te wees van hierdie gemeente. - Leon

    ReplyDelete
  18. Dankie vir al die positiewe terugvoer. By die Klassieke diens was Nina en haar sanger uitmuntend! Ek is nie 'n klassieke mense nie, maar wow dankie julle. Sicilie en haar groep was uitstekend by die informele diens. Met die klank wat nie gewerk het nie en die mikrofoon wat geweier het was Sicilie skitterend onder al die druk. Santie en die kiddies was kosbaar. Dit was so lekker om deel te wees van hierdie spanne. Ek kry Predikante jammer wat alleen aan 'n erediens moet werk.

    ReplyDelete
  19. Wat dink julle van die reekse? Ek persoonlik is baie opgewonde veral omdat die kinders en tieners ook deel is van dieselfde reekse. Dit skep die geleenthede dat gesinne saam kan gesels oor dieselfde onderwerpe al was hulle in verskillende dienste. Wat die dienste betref is dit lekke om deel uit te maak van 'n groter gemeente waar versikllende mense met verskillende behoeftes is. Dit skep net eenvoudig vir ons soveel meer diens geleentheid. Die belangrikste is nie wat is vir my die lekkerste nie, maar hoe kan ek dit vir ander lekkerder maak. Dit vat nie ons menslike behoeftes weg nie, dit bring dit net in lyn met God se behoeftes. Ons het egter 'n groot behoefte om te hoor wat julle dink. Ons praat baie oor kerkwees, om geleentheid te skep waar mense in die teenwoordigheid van God kan kom en God kan hoor, beleef en aanbid. Ons is egter so vasgevang in hoe ons dit altyd doen dat dit vir ons moeilik is om buite hierdie raamwerkie te dink. As jy stil word by God wat le God deur sy Gees op jou hart. Ons al liggaam van God moet saam God se wil soek sodat die wereld God se liede by ons kan sien. Onthou dieselfde GOD die Heilige Gees wat in ons werk, werk in jou en daarom is jou opinie vir ons net so belangrik. Groete In Christus

    ReplyDelete
  20. Anonymous24/8/09 19:46

    * Iets wat hinder... die baie kinders wat tydens die informele diens buite so lawaai dat dit jou aandag van die preek/prediker aftrek.
    * Behoefte ... bekeringsprediking.
    * Nodig ... meer geleentheid vir persoonlike getuienisse (met tydsbeperking).

    ReplyDelete
  21. Sondag, 30 Aug, gaan oor Jesus wat ons oproep om te waak teen louheid. Is daar dalk iemand wat graag wil kom getuig oor hoe jy louheid in jou geloofslewe oorwin het. Kontak my asb.

    ReplyDelete
  22. Ek wil graag aansluit met die opmrking hierbo. Bekeringsprediking. Ek dink baie mense kom ook kerk toe om te hoor hoe hulle by GOD kan uitkom. Moedig mense aan om hulle harte vir die Here te gee en skep geleenthede in die diens daarvoor of na die tyd. Party keer word ons so positief geraak in 'n diens en wil ons net gou saam met iemand Bid of net gou hê iemand moet ons leiding gee of 'n vraag help beantwoord.

    ReplyDelete